top of page

Die Jakkals se Komvandaan



‘n Woord wat so lekker rol oor die tong van die mense hierbo in die Noord Kaap is “komvandaan”. “Jou komvandaan, daar waar jou wortels begrawe is,dit is wie jy is, amase(tog so waar)” profeteer Roselina Links, afstammeling van Kaptein Paul Links, laaste van die koninglike huishouding van die Bondelswart stam. Sy vertel hoe sy nog gesien word as ‘n prinses tussen haar mense, van hoe haar voorvader Kaptein Paul daar by Boegoebaai lê.

Twee dae voor die Sound and Soil projek se finale visuele en klank ekspressies opgeneem word, stap ek tussen die tuinpaadjies waar kokerboom en eienaardige vetplante floreer op die Jakkalswater gaste plaas. Ek loop my vas in 26 jarige Roenel Fienish waar sy besig is met die opruim van die kommunale eet area.“Waar is jou komvandaan”wil sy weet gedurende ons gesprek.


My woorde gaan steek vas in my hart vir ‘n oomblik. “Ek weet nie Roenel, ek weet regtig nie, maar ek soek daai komvandaan daagliks, soos so baie van ons in hierdie land”.Sy glimlag en bloos terselfde tyd en sê met soveel eerlikheid, “ek weet, ons regte Nama geskiedenis word nie eens behandel op skool nie”. Tussen hierdie rotse, lang paaie en nimmereindige hemelruim lê die trots van die Nama wyd gesaai.


En so kan die komvandaan ook vanuit die perspektief van ‘n naam bespreek word. Die naam Jakkalswater gryp my vanaf dag een aan. Dit suggereer misterie, volmaan en so bietjie paljas.





Die dag vantevore neem bestuurder Reinhart Straszacker, ons na die oorspronklike deel van die plaas Jakkalswater, deel met ons ‘n kort geskrewe deel van die ontstaan van die plaas, die grond en mense van hier. Langs die pad, onder vier bloekoms staan 3 grafte. In ‘n rots (so deel van hierdie landskap), is die grafstene van die afstammelinge van die familie Dixon wie Jakkalswater begin het. Hier is vlugtig die komvandaan storie van ‘n lap grond, hier vêr in die Noorde van Suid Afrika. Hier waar daar so baie oopte is dat jy voel jy verloor jouself in dit als.


Die jaar 1839-40 klim James en Lovedia Dixon op ‘n skeep om hul wortels te gaan plant in Australië. Lovedia is hoog swanger met hulle 5de kind en skenk geboorte aan ‘n seun wat hulle vernoem na die skeep. Die seun heet nou Richard Neptune Dixon. Lovedia word erenstig siek en die skeep anker in die Kaap. Die reise van die Dixon familie na hulle in die Kaap aan wal stap is vaag, maar hulle reise bring hulle na Namakwaland.

Die twee oudste Dixon seuns (Benjamin en James) verkry ‘n 99 jaar huurpag in 1876 op ‘n plaas wat genoem word Ou/Groot Nababeep. Die grond word besit deur die Cape Copper Company. Hier bou die twee ‘n skakelhuis in die ou Ierse boustyl. ‘n Huis vra ‘n vrou en hulle slaan geluk met die tweeling, Anna en Johanna Basson. Die plaas groei voerhawer en verskaf dit aan die Cape Copper Company, wie dit aankoop vir hul muile. Hierdie muile was gebruik vir die trek van die koper per trein na Port Nolloth. Die broers Dixon boer ook met skape, besit ‘n smidswinkel en meule, wat die omliggende areas bedien met die maal van koring.


‘n Huwelik volg tussen die derde oudste seun van Benjamin, genaamd John James(Swart Jim) en die dogter van sy broer James, haar naam is Jane Rebecca.

John James Dixon en sy niggie/vrou Jane Rebecca trek en gaan woon op ‘n ander deel van die huurpag grond. Hulle trek in die lang drie vertrek strooidak huis wat gebou is deur hul oom, Richard Neptune. Naby die huis is ‘n fontein waar vars water uitborrel en dit is hier waar jakkalse hulle dors kom les. Vandaar die naam Jakkalswater.

Die wortels van die familie Dixon van Jakkalswater vertak, en kruis met die Agenbag bloedlyn. Swart Jim se dogter Lily trou met ene Edmund Agenbag, en volgens rekords was Edmund ook ‘n nasaat van die Dixon’s. Edmund se moeder, Amelia Bassingthwaighte, is ‘n kleindogter van die eerste Dixon’s

‘n Kenmerk van die Jakkalswater plaas was die groot tuin, aangelê deur Edmund en sy seuns. Druiwe, vyebome, turksvye en ander vrugtebome word aangeplant , en uitgedeel aan familie, vriende, hospitale en ouetehuise. Jare later verkoop die koper maatskappye die huurpag grond.


Nuwe eienaars stel nie belang om die boerdery verder te vat en alles wat eens gegroei was, gaan tot niet.


Hierdie kort opsomming van die oorspronklike Jakkalswater word verskaf deur Christina Agenbag namens Bassingthwaighte Agenbag wat op Jakkalswater groot geword het.

Die ou Jakkalswater is geleë suid van die gasteplaas waar ons woonagtig is.

Die vetplante roep my weer, en ek vind Oom Freddie (Frans) Fienish, waar hy besig is om te woel in die tuin. Ek is ‘n tuinmens. Ons siele roep mekaar. Oom Freddie is die tuinier van Jakkalswater sedert 2015. Sy liefde vir die kokerbome wat hy grootmaak hier is duidelik wanneer ons kyk hoe voëls mekaar sit en terg in die geel bloeisels van ‘n boom wat sy jare mooi dra. Hy is ‘n man min van woord, maar vertel my tog van sy komvandaan. Gebore in Keimoes, verhuis sy ouers na Xhouroep(kouroep), een van die Keimoes eilande. Hy vertel van hoe elke eiland ‘n naam het, en vra of ek weet van Langklaas eiland. “’Die mense sê die man wat eerste daar gewoon het was so lank, mens moes opkyk”, vandaar die naam LangKlaas. Ek vertel hom van die liefde in respek in Roenel, sy dogter se stem toe sy die vorige dag van hom gesels het met my.





Ek loop met twee wyshede weg vanaf ‘n man wie lyk asof hy dieper kyk as net die oppervlak. Wysheid nommer 1 – Wat reg is,is reg, wat verkeerd is, is verkeerd. Wysheid nommer 2 – Wanneer jy Noordkaap toe kom is jy in die huis van die Nama, maak nie saak watter stam, watter groep, jy is in Namaland.

Hierdie wêreld hier bo is groot en wyd. Die wie hulself hier gevestig het, het hul komvandaan vaarwel geroep .Die mense van Namakwaland, die wat hier nog steeds in die spore van hul oerouers trap, wat nog steeds die veldkos met respek neem, wat nog steeds die trap van diere in hul danse naboots, dis hierdie mense wat die aarde hierbo verstaan. Mense mens, wat die koue winters trotseer met die weet dat in lente die aarde hulle prys met al haar prag.


Aan die leser een vraag….”Ken jy jou komvandaan”.



10 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page